Thursday, January 13, 2011

Skoonheid. Beauty. Beauté... MOOI.

Ek blaai gister deur 'n tydskrif en sien toe 'n foto van Angelina Jolie met haar pruilmondjie en donkerbruin hare en dink saggies: "Sjoe sy's mooi". Op die volgende bladsy is daar 'n pasgebore babatjie toegedraai in 'n donsige kombersie en ek dink: "Aaw kyk die mooi baba!". Tussen die modeblaaie van die tydskrif sien ek natuurlik 'n paar spykerhakke, of "killer heels" soos baie dit sou noem, en ek dink weer "Oeeeh dis mooi!". Toe skrik ek. Is ek dalk besig om die woord "mooi" te misbruik? Hoe kan 'n Hollywood seksbom, 'n onskuldige babatjie en onmenslike hoë hakskoene alles met dieselfde byvoeglike naamword beskryf word?

Wat is "mooi" nou EINTLIK?

Ek dink die reën is mooi. 
Ek dink 'n musikant se passie op die verhoog is mooi...
...eintlik dink ek enige passie is mooi.
Veral danspassies.
Dans is mooi.
Kinders is mooi.
Ek dink lag is mooi.
Ek dink woorde is mooi.
Blomme is mooi.
Wolke ook.
Musiek is mooi.
Ek dink gebed is mooi.
Woorde is mooi.
En ja ek dink selfs killer heels is mooi.
'n Bruid op haar troudag is mooi.
Foto's is mooi.
Pienk en rooi is mooi.
Ek dink die lewe is mooi.

Eintlik is "mooi" watookal jy dink mooi is.

Clive Bell het gedink iets is net mooi as vorm, kleur en lyne saamwerk om emosie te ontwaak (google "Bell's notion of significant form" - enige kunsliefhebber behoort dit insiggewend te vind).
Ek dink persoonlik Mnr. Bell het die regte idee gehad. Die "emosie ontwaak"-deel van sy teorie maak vir my sin. Alles wat mooi is ontwaak emosie. 

Mooi dinge laat my lag, huil en dink. Ek lag, huil en dink elke dag. 
Die lewe is mooi.

Friday, November 26, 2010

Die Juigkommando tamagotchi

Stephan, Anton en Sarina
Toe ek vanaand op Facebook kom, wag hierdie boodskappie in my inbox. Ek moet bieg, dit het my met trane en 'n reuse glimlag gelaat. Geskryf deur my liewe vriend, Stephan Scholtz:
 

Stephan, Marra, Sarina en AB


Stephan (in die regterkantse hoek), Sarina, Marra en Anton
Dis wat ek vanoggend 2 uur getik het, verskoon die spelfoute en ander foute(Sarina), na die infamous oproepe wat ek gemaak het. Marra jy weet al, sal die res nog op hoogte bring. Een ding is net as julle besluit om nie meer my vriende te wees nie, is ek lelik geskroef! Die inspirasie was wyn!!! Baie en baie! Plus n bietjie emosies wat deur ou Bachus aangewakker is. Moet se die min slaap en Panado's het nie lekker saam gewerk nie. Wees net bly ek het julle nie gebel nie. Maar ek twyfel of dit n slegte gesprek sou gewees het. Weet nie waar die wurm ding vandaan kom nie.

Dis die einde van ons eerste jaar, soort van. Totdat die laaste punte se stres en moontlike herre verby is, sal ons die Desember vakansie begin geniet.
Maar dis waar my probleem inkom. Ek is nie een vir lang vakansies nie! Desember is seker die slegtste tyd van die jaar vir my en as ek dit as 'n seisoen moet beskryf, sal dit definitief winter wees. 'n Lang warm winter van leeglê en te veel tyd om te dink. Hunter Kennedy so woorde is van toepassing:"as die somer so lekker is, hoekom voel ek so fucked?"
Lang vakansies is gewoonlik wanneer my kop op hol gaan. Ek vind myself weggesluit in musiek en televisieskerms. Ek swyg om elke hoek en draai en probeer myself voorgee as die normale mens waarvoor almal my ken. Miskien moet ek nie die woord normaal sommer net so ligtelik gebruik nie.
Dis in die tyd wat ek 'n gevoel kry asof 'n duisend wurms aan my ingewande vreet. Almal besig om hulself te vergryp aan die spyt van dinge wat ek nie gesê of gedoen het nie. Die jaar in spesifiek is dit oor die dinge wat ek nie gesê het nie...
Ek weet die gevoel gaan nog lank aan my vreet. Daarna moet die wurms ook nog spin.

Maar daar is 'n oplossing vir my Desember vakansiedepressie. Ek kort die hulp van Akihiro Yokoi en Aki Maita. Dis die twee bra's wat gesorg het vir die rewolusionere beweging wat die Tamagotchi genoem is.

Ek wens my vriende was soos tamagotchis. Dan sal ek hulle oral kon saam neem en verseker wees van goeie geselskap en die spreekwoordelike " laugh a minute". Sweerlik sal die vakansie dan 'n fees wees.
Miskien sal daar net 'n paar veranderings gemaak moet word aan die Juigkommando tamagotchi, want ek glo nie die vriendskap gaan lank hou as ek hulle aanhoudend moet voer en agter hulle moet skoon maak.

Ek's dankbaar dat ek myself bevind in 'n groep vriende wat absoluut niks van my verwag, behalwe om hulle vriend te wees. Hulle aanvaar my soos ek is en ek vir hulle.
Die debat is nog aan die gang van wat ons regtig is. Kult, geheime organisasie wat baie mense van weet, rewolusionere beweging of net n sosiale afwyking wat ons almal bind. Die vraag sal nog beantwoord word.
Maar ons verseker ons vriendskap se leeftyd in twee woorde wat aan ons verskyn het, Die Juigkommando!

Die jaar is byverre die beste jaar in my lewe maar ek kan nie help om hartseer te voel soos Desember, Januarie en n bietjie van Februarie vir my wag. Ons moet seker ook bietjie rus want 'coffee buzz' en joernalistiek swot is n voltydse werk wat jou energie tap.
Ek weet dat die sywurns vinnig in skoenlappers in gaan broei in afwagting van n nuwe studie jaar saam vriende. Ek gaan net al die lekker tye saam hulle mis!

Die jaar se 'films' gaan nog baie in my kop gespeel word en ek gaan pimpel en pers wees soos die nostalge my gaan bliksem!

Julle moet n lekker vakansie he en wees veiliig!
Laat dit JUIG! 

Anton, AB, Marra, Hilde, Stephan en Sarina... a.k.a. Die Juigkommando

Thursday, October 28, 2010

Nood/t

Almal sê ek het jou nie nodig nie
maar ek het al probeer om sonder jou klaar te kom
en dis swaar.

Ek sukkel sonder jou.
My dag is net nie dieselfde sonder
ek en jy en 'n koppie koffie
of ek en jy en ontbyt wanneer ek honger is
of ek en jy en nou en dan nuwe klere.

Jy is skaars. 
Veral met my.
Jy's nooit daar as ek jou nodig het nie
en as jy daar is gebruik ek jou net. 

Maar tog smag ek na jou
op 'n manier wat ek nie na mense mag smag nie
Op 'n ongesonde, gulsige manier.
Ek soek jou by my. Nou. Altyd.

Jy lyk mooi in groen, en 
rooi en
blou
maar my gunsteling is oranje.
Net jammer jy verskyn hopeloos te min
in my ewig dun
studentebeursie.


Wednesday, October 27, 2010

My maan-man




Blykbaar is daar 'n man op die maan.
Ek dink dis dalk my man.
Want die maan praat soms my hartstaal
en verklap my hartsbegeertes skaamteloos in die hemelruim.
En die maan laat my verlief raak.
Verwonderd. Mooi. Helder. Ver.
Soms koggel die maan my.
Na-aap my innigste emosies.
Soos vanaand.
Spieelbeeld van my hart.
Half, maar steeds optimisties geel.
'n Stukkie optimisme op 'n uitspansel van swart
met glinsterende sterre wat my pad verlig.
Eendag gaan my maan-man kom
en my halfmaanhart kom volmaak.
Saam sal ons 'n taal praat wat net die maan kan verstaan.
Maar vir nou loer ek net na hom.
My maan-man...
kom steel weer vanaand my hart.

Thursday, September 30, 2010

Sound of silence

Stilte maak my bang. 
Dalk is dit omdat ek weet dat daar altyd 'n stilte voor die storm is. Daarom vermy ek die stilte en hoop dat ek so ook die storm kan vermy. 
Ek het hierdie afgelope twee weke egter agter gekom dat dit nie die storm is waarvoor ek bang is nie.
Ek is bang vir die ongelooflike kalmte wat saam met die stilte kom, want dan word ek gedwing om na die stilte te luister. Stilte is nooit werklik stil nie. 


My radio is permanent aan - selfs wanneer ek slaap - juis sodat ek nie in stilte moet wakker word nie. Maar hierdie week het ek bietjie my radio afgesit. Ek het geleer om die stilte te waardeer. En te luister na alles wat in die stilte gesê word. Ek het geleer om die stilte te "embrace". 



Die Here gebruik stilte om met my te praat. Hy sit drome in my hart wat ek net in die stilte kan koester. Dis soos 'n saadjie wat donkerte nodig het om te ontkiem. My drome het stilte nodig om te ontkiem. 


"And the vision that was planted in my brain
still remains
within the sound of silence..."


Simon and Garfunkel het verseker hierdie konsep verstaan...


Hierdie week het ek geleer dat die stilte 'n goeie ding kan wees en dat 'n mens nie altyd die stilte hoef te vul met musiek of woorde nie. En as die stilte dan gevul móét word, vul dit eerder met gebed.


Ek het baie uit die stilte geleer. Nou is ek ook nie meer bang vir stilte nie. Ek sien kans vir die stilte, die kalmte en die storm na die stilte, want ek weet dat ek in stilte genoeg krag sal kry om die storm te trotseer. Ek weet dat die stilte genesing bring en dat die stilte soms goud werd is.
Ek is nog nie lief genoeg vir stilte om nou op te hou musiek luister nie (of dalk is ek nog liewer vir musiek as vir stilte. Musiek bring immers ook 'n tipe genesing), maar ek het geleer om die stilte te geniet.  Amen Meneer Aldous Huxley - "After silence, that which comes nearest to expressing the inexpressible is music".


Stilte is goud werd. 


"We need to find God, and he cannot be found in noise and restlessness. God is the friend of silence. See how nature- trees, flowers, grass - grows in silence; see the stars, the moon and the sun, how they move in silence... We need silence to be able to touch souls." - Moeder Teresa

As God 'n vriend van stilte is, dan wil ek ook 'n vriend van stilte wees. Dit is soveel makliker om die Here te vind in die blomme en die blou lug as wat dit is om hom op die teerpad of tussen betonstrukture te vind.  Tog is dit selfs nog makliker om hom juis in betonstrukture te vind wanneer 'n kalm stilte op 'n mens neerdaal. God is orals. Veral in stilte.


Stilte is my nuwe gunsteling klank.

Saturday, September 11, 2010

Suiker

Did you know that sugar is the only taste humans are born craving?

Suiker. Soet. Soetheid. Mooiheid. Goedheid. 
As wetenskaplikes dan kan bewys dat 'n mens van geboorte af al smag na iets soet, het hul die geheim tot 'n gelukkige lewe ontdek.


Suiker maak die lewe beter. Ek glo vandag nog dat sjokolade die beste geneesmiddel vir griep of verkoue is. Baie mense glo ook dat roomys of "cookie dough" (soos dit in talle Amerikaanse films uitgebeeld word) 'n gebroke hart kan heelmaak. Selfs Mary Poppins glo dat suiker alles beter maak - "just a spoon full of sugar helps the medicine go down...."


Suiker gee 'n mens krag. Waar anders kom die term "suger rush" dan vandaan?


Suiker gee 'n mens hoop. 'n Mens eet mos maar die broccoli as daar sjokolade poeding vir nagereg is. Maar suiker gee deesdae ook hoop in die vorm van die breinbaba van een of ander entoesiaste entrepreneur wat oulike aanhalings wat deesdae agterop Huletts suikersakkies laat druk het. "If you've only one breath left use it to say thank you."~ Pam Brown en "Kind words can be short and easy to speak but their echoes are endless."~ Mother Teresa.
 
Ek dink egter nie dat die geheim tot 'n gelukkige lewe net in eetbare suiker lê nie. Die geheim lê ook in 'n ander tipe soetheid: die soetheid van liefde, omgee en die klein dingetjies wat die lewe die moeite werd maak.

Dit is belangrik om iemand te hê wat lief is vir jou. Dit is belangrik om lief te wees. Dit is belangrik om iemand te hê wat vir jou omgee. Dit is belangrik om om te gee. Dit is belangrik om soms net te gaan stap en 'n gunstelingliedjie te neurie, om blommetjies te ruik, om 'n fliek te kyk saam met iemand spesiaal, om foto's te neem van die dinge wat jou inspireer, om te lag tot jou maag pyn, en om suiker vir ander mense te wees.

Saturday, September 4, 2010

My Man

Here, ek weet hoe ek my man wil hê
en ek weet U weet ook,
maar ek gaan nogsteeds vir U sê.

Ek weet my lysie is effens lank,
en dalk bietjie onrealisties,
maar iewers op aarde is daar só man,
en ek weet U het hom vir mý gekies.

Ek soek ‘n man wat baie lag,
‘n man wat hou van die see.
Ek soek ‘n man wat my vashou in die nag,
‘n man wat vir my omgee.

Ek soek ‘n man wat lekker ruik,
‘n man wat hou van das dra.
Ek soek ‘n man wat my in die oë sal kyk,
‘n man wat interessante vrae vra.

Ek soek ‘n man wat hou van goeie wyn,
‘n man wat hou van jellytots en smarties.
Ek soek ‘n man wat weet wanneer my hartjie pyn,
‘n man wat saam met my mooi sal aantrek vir parties.

Ek soek ‘n man wat hou van jazz-musiek,
‘n man wat hou van rock & roll.
Ek soek ‘n man wat saam met my sal gaan fliek,
‘n man wat kalm bly, al gaan dit dol.

Ek soek ‘n man wat briewe skryf,
‘n man wat hou van lees.
Ek soek ‘n man wat hou van my lyf,
‘n man met oorspronklike idees.

Ek soek ‘n man wat blomme pluk,
‘n man wat hou van gesels.
Ek soek ‘n man wat my ouers beïndruk,
‘n man wat my graag omhels.

Ek soek 'n man wat goed kan spel,
'n man wat wat idiome ken.
Ek soek 'n man wat grappe vertel,
'n man wat my hart wil wen.

Ek soek ‘n man wat aktief sal bly,
‘n man wat pienk sal dra.
Ek soek ‘n man wat tyd maak vir my,
‘n man wat oor die weg kom met my ma.

Ek soek ‘n man wat nie omgee as ek kaalvoet loop,
‘n man wat goed kan bestuur.
Ek soek ‘n man wat vir my boeke sal koop,
‘n man wat hou van ‘n koue bier.

Ek soek 'n man wat krieket verstaan,
'n man wat ander aanhaal.
Ek soek 'n man wat oral saam met my sal gaan,
'n man wat dink ek is spesiaal.

Ek soek ‘n man wat daarvan hou om lang ente te stap,
‘n man wat hou van die pad deur die Karoo.
Ek soek ‘n man wat vir my badwater sal intap,
‘n man wat in die krag van gebed glo.

Ek soek ‘n man wat baie foto’s neem,
‘n man wat poësie kan waardeer.
Ek soek ‘n man wat selde teem,
‘n man by wie ek iets kan leer.

Ek soek ‘n man by wie ek net kan sit,
‘n man wat dink ek is mooi.
Ek soek ‘n man wat langs my op sy knieë sal bid,
‘n man wat selfs jare later vir my sal flikkers gooi.

Ek soek ‘n man wat sal luister as ek Frans wil praat,
‘n man wat hou van sing.
Ek soek ‘n man wat my vashou, al is hy kwaad,
‘n man wat die beste in my na vore bring.

Ek soek 'n man wat met rede kwaad raak,
'n man wat my brousels geniet.
Ek soek 'n man op wie ek kan staatmaak,
'n man wat selfs 'n koedoe vir my sal skiet.

Ek soek ‘n man wat vir my in die bresse tree,
‘n man wat die goeie kant in ander sien.
Ek soek ‘n man wat vir my soentjies en drukkies gee,
‘n man wat U in alles dien.

Ek soek ‘n man wat homself verwonder oor die maan,
‘n man wat hou van KFC.
Ek soek ‘n man wat my hart verstaan,
‘n man wat saam met liedjies neurie.

Ek soek ‘n man wat nuus kyk,
‘n man wat sy baard gereeld skeer.
Ek soek ‘n man wat hou van hoe ek lyk,
‘n man wat U met alles in hom eer.

Pappa God, ek weet my lysie is lank,
Maar dis hoe ek my man wil hê.
En ek belowe, as ek hom kry,
Sal ek hom respekteer en met alles in my liefhê.

So ek smeek U Here, maak tog gou
en stuur hom oor my pad.
Ek hoef nie nou al met hom te trou...
Ek soek net die regte man om my hand te vat.