Monday, June 14, 2010

Vloekwoorde is vir die voëls

Vloekwoorde was nog nooit een van my sterkpunte nie. Ek hou nie daarvan om te vloek nie en ek is ook nie mal daaroor as mense rondom my vloek nie. Tog besef ek dat vloekwoorde 'n belangrike deel van sommige mense se woordeskat uitmaak. Nadat ek hierdie "artikel" gelees het, het ek besef waarom mense so lief daarvoor is om 'n vloekwoord (veral "f*k"), so tussen hul woorde in te gooi :

DIE UNIEKE AFRIKAANSE "F*K"

Een van die interessantste, kleurvolste woorde in Afrikaans, is die leenwoord f*k en sy familie. Dis 'n towerwoord wat, bloot deur sy klank, vreugde of pyn, liefde of haat, ontdekking of frustrasie kan weergee. F*k is een van die min woorde wat die funksie van so te sê alle woorsoorte kan vervul.

Dit word as oorganklike werkwoord gebruik (F*k die hele spul!), en as onoorganklike werkwoord (Aag f*k!), as bevel (F*k dit!), in die bedrywende vorm (Dit het my gef*k), sowel as in die lydende vorm (Nou is jy gef*k), as die hoofelement in 'n hele reeks skeibare werkwoorde (aanf*k, opf*k, uitf*k, toef*k, voortf*k, byf*k, agteroorf*k, agternaf*k) ens. of as stam van 'n werkwoord (Nou het jy die hele ding bef*k).

As abstrakte selfstandige naamwoord (Ek gee nie 'n f*k om nie), of as persoonsnaam (Het jy gesien wat die f*kker probeer doen?) as nabepaling by 'n vraagwoord (Hoe de f*k, wie de f*k, hoekom de f*k, wanneer de f*k, ens.), as byvoeglike naamwoord (Waar moet ek die f*kken tyd vandaan kry?), as bywoord (Dis nou 'n f*kken mooi grap), en as uitroep (O f*k!).

Selfs ook as invoegsel (Onge-f*kken-looflik). Dit kan ook in homself ingevoeg word (Nou is jy be-f*kken-f*k).

Dit kan horlosietyd beskryf (Presies half-f*kken-vyf), of omstandighede (Hoe het ek in hierdie f*kken job beland?), of persone (Jan F*kken Smuts), of dinge (Kyk hoe lyk jou f*kken skoene!), of plekke (Tot in f*kken Durban), of dit kan die siel van 'n uitnodiging wees wat van hartlikheid drup (F*k u!).

F*k is in Afrikaans onge-f*kken-ewenaard!

- (deur Prof. Johan Combrinck, voormalige Voorsitter van die Taalkommissie van die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns)

Dit is dus duidelik om te sien waarom so baie mense deesdae vloek! Vloekwoorde pas net so maklik in by absoluut enige tipe woordvorm en enige vaste uitdrukking! 'n Ander naam vir 'n vloekwoord is natuurlik 'n kragwoord - en met rede! Vloekwoorde het die vermoë om 'n doodgewone sin (byvoorbeeld, "Dit is mooi") soveel kragtiger te laat klink ("Dit is f*kken mooi" of "F*k, dit is mooi"). 

Een van my vriende het egter vandag vir my 'n ding gesê wat baie waar is : vloekwoorde is net vir mense wat nie weet hoe om hulself op 'n ander manier uit te druk nie. Met ander woorde, iemand met 'n goeie woordeskat sal minder geneig wees om vloekwoorde te gebruik aangesien die persoon eerder iets soos "dit is besonders mooi" of "dit is asembenemend" sou gebruik in plaas van "dit is f*kken mooi".

As jy dus iemand is wat daarvan hou om vloekwoorde te gebruik, geniet dit. Ek verkies egter om my woordeskat uit te brei deur alternatiewe woorde te soek om dinge op 'n kragtige manier oor te dra.

Saturday, June 12, 2010

Sokkerkoors



Die meeste Suid-Afrikaners sal waarskynlik die jaar 2010 slegs vir een ding onthou: die FIFA Wêreldbeker.

Sedert daar in 2004 aangekondig is dat ons land die gasheerland vir die 2010 Wêreldbeker sal wees, is Suid-Afrikaners gebombardeer deur enige iets wat met sokker verband hou en nou het die groot dag uiteindelik aangebreek. Die wêreld is op ons voorstoep (en Sun City krioel blykbaar van sterre soos David Beckham en sy gesin), en die hele land is in rep en roer oor wat hierdie Wêreldbeker alles vir ons land mag inhou.

Ek beskou myself glad nie as 'n sokkeraanhanger nie. Ek het onlangs eers uitgevind wie Kaka en Maradonna is en as ek nie vriende gehad het wat sokkermal was nie, sou ek waarskynlik nogsteeds nie besef het dat Aaron Mokoena Bafana Bafana se kaptein is of dat Brasilië die Wêreldbeker al vyf keer gewen het nie. Maar selfs al is ek nie 'n sokkermalmens nie, is ek ook nou ingetrek deur die gedruis van Vuvuzelas en die see van groen en geel wat Bafana Bafana aanhits en aanmoedig. Ek het nou wel nog nie vlaggies op die kar of op my spieeltjies nie, maar ek besit ook nou darem al 'n top met die woorde "South Africa" daarop en ek kan ook nou al 'n vuvuzela blaas.

Gister se openingseremonie by Soccer City was pragtig. Ek was weer trots Suid-Afrikaans. Die wedstryd was net so pragtig en ek was stilweg bly dat Tshabalala die doel vir Suid-Afrika aangeteken het, aangesien hy en Booth die enigste Bafana-spelers is wat ek met die eerste oogopslag kan uitken, dus kon ek "mooi so Tshabalala" skree en mense het gedink ek weet waarvan ek praat. Ek het gisteraand ook die wedstryd tussen Frankryk en Uruguay gekyk en het sopas die Korea-Griekeland wedstryd gekyk. Selfs al het ek nie 'n idee wie die spelers op die veld is nie en selfs al is daar maar min name wat vir my bekend klink, maak ek nou 'n punt daarvan om nie 'n wedstryd mis te loop nie... ek het ook nou sokkerkoors.

Saturday, June 5, 2010

Tussen Stasies: waarom ek so bietjie van Jack Parow hou

Ek ken waarskynlik van Suid-Afrika se coolste mense. Ek het vriende wat BCom Rekeningkunde swot en skaars deurkom, vriende wat Teologie swot maar vloek soos matrose (en tog verstaan almal dt hul Teologie swot, aangesien hul harte van goud het wat oorloop van God se goedheid en liefde), dan het ek vriende wat Onderwys swot en die versinnebeelding van preutsheid is en laastens het ek natuurlik vriende wat saam met my wegraak in die wonderwêreld van taal en woorde deur BA Tale te swot. Dit is juis hierdie BA Tale maats van my wat gister saam met my The Lion King gekyk het en my voorgestel het aan Jack Parow se nuutse album. 

Soos 'n mens sou raai, is Meneer Parow se album propvol swetsery en selfs lastering, maar tog is elke snit iets heeltemal oorspronklik en skreeusnaaks... en dan is daar in een spesifieke snit op sy album wat sommer die hele album vir my die moeite werd maak, naamlik "Tussen Stasies" (met Die Heuwels Fantasties).

Dit is moeilik om te beskryf watse gevoel hierdie liedjie in 'n mens wakker maak, 'n mens moet dit self ervaar om dit te kan verstaan, maar deur selfs net na die woorde te kyk kan 'n mens al sien dat Jack Parow eintlik 'n diep siel is en dat sy lewe nie net oor brandewyn en seks gaan soos wat 'n mens uit meeste van sy ander liedjies sou aflei nie.

Nadat ek Dans Dans Dans gehoor het, het ek vir mense vertel dat ek selfs die bietjie respek wat ek vir Jack Parow gehad het verloor het, maar ek kan met alle eerlikheid sê dat "Tussen Stasies" weer 'n bietjie respek vir hom as mens gekweek het.

Jack Parow  - Tussen Stasies (ft Die Heuwels Fantasties)
 
ek het al baie goed verloor
en dit nooit ooit weer gevind
ek het al baie vir my ma gese
ek is nie meer 'n kind nie

die lewe is 'n hard
en ek verstaan nie meer die punt nie
ek staan langs groot hoop hout
maar ek het nie meer 'n flint nie

ek kry koud op my eie
en ek soek eintlik net 'n klein bietjie warmte
almal is ryk van die liefde
en ek's al weer die armste 


sommige dae voel ek of ek doodgaan van die hongerte
daar's 'n lee kol in my maag
waar ek wegkruip in die donkerte

ek's gebreek van binne
soos al my speelgoed van toe ek klein was
as ek vandag wegstap
sal al my goed pas in 'n klein tas

ek soek net 'n klein tydjie sodat ek die
as van my kan afwas
maar die soldate op die muur
bombardeer my met traangas

ek lê onder 'n lappieskombers
en probeer nog blokkies aanlas
maar daar's 'n kwaai oom langs my bed
en hy sê vir my staan vas

so ek trek die kombers oor my kop
en le oop voete
en stap die lang pad in my pa se groot skoene

as on staan op einde van die langpad langs die spoor
daars net donkerte daarvoor
ek staan en bewe
dit raak swarter
en daar's net stilte wat ek hoor
hou my hand styf vas langs jou sy
is jy nog lief vir my?
sal jy my by die hemelpoorte kry?

ons hou vas aan mekaar
maar niemand gaan ooit joune wees nie
ons skryf briewe vir mekaar wat ons nooit regtig lees nie
want daars altyd een verloorder in Russian roulette
ek moet uitgaan ek moet werk maar ek sit vas in die bed

ek stap rond en soek sitplek in leë gebouens
ek probeer myself vind in drank en leë verhoudings
ek sit en skryf gedigte
maar word my gedigte digkuns
en ek skree volle bors in die aand met my kop in die kussing

ek lê vir ure in die bad met my kop onder die water
ek slaap elke oggend laat want die wêreld kan wag tot later
ek moet wag nie aanbeweeg
onslae raak van my gevoelens
hoe ek stap

ek raak leeg oor aksies sonder bybedoelings

ek sit alleen op een punt van die wipplank
ek bid al weer vir een sitvlak
maar ek sit lank
en wag vir iemand om op te spring aan die eenkant
maar die vingers van my gevoelens krap diep in my verstand

as on staan op einde van die langpad langs die spoor
daars net donkerte daarvoor
ek staan en bewe
dit raak swarter
en daar's net stilte wat ek hoor
hou my hand styf vas langs jou sy

ek het al ver gewen en baie ver verloor
ek het al baie gevoel of die lewe my versmoor
ekt al baie gesit op die bokant van 'n berg
ekt al baie gesit in die voorkant van die kerk

vat my terug na die langkloof en my ouma se plaas
ek wil saam met my suster die skape in die kraal injaag
ek wil sit op my oupa se skoot en stories hoor van die verlede
ek wil rondhardloop in die gras tot ek lam word in die kniee

ons staan en luister hoe die Here en die duiwel oor ons stry
die hartseer is verby
op die oueind is al wat ek wil hoor oor jou tong
jy wil by my bly
sal jy my by die hemelpoorte kry?

Thursday, June 3, 2010

Verlang

Vir Magdaleen

Geluk skryf die rympies
droefheid die gedig
jou nabyheid die versies
verlange die poësie

- Hans du Plessis

Daar is min dinge in hierdie lewe so erg as om na iemand te verlang. Dis gewoonlik verlange wat my dryf tot poësie, daarom kon ek aanklank vind by Hans du Plessis se gedig.

Hans se gedig het my egter laat dink aan nog 'n gedig (ook deur 'n du Plessis... of eerder deur DIE du Plessis):

Herinneringe

Jou beeld is 'n verflenterde foto
In 'n skewe, versplinterde raam
en 'n sestal geskommelde letters
spel jou tweelettergrepige naam.

Jou woorde is dor manuskripte
Vir die motte bewaar op die rak
en ons dae 'n kralesnoer syfers
op 'n outydste muuralmanak.

Jou oë was die kleur van die aarde,
van saffier, van smarag of agaat,
en jou stem 'n ontwykende deuntjie
gevange in 'n stukkende plaat.

Vergete is die lag in jou oë
of die tranespoor op jou wang,
maar soms in die nanag onthou ek
hoe diep ek na jou kon verlang.

Want wat ek vir altyd wou vashou,
het die tyd uit my hande laat gly
en wat ek so graag wou vergeet het
is vir ewig gebalsem in my.

- Koos du Plessis


Vanaand is weer een van daardie aande waar ek diep en innig verlang. Ek vermoed die winterweer het iets daarmee uit te waai. Dis so koud, onguur en triestig dat 'n mens se hele wese daarteen moet stry om te keer dat 'n mens se hart ook so begin voel. Al wat help om die koue te verdryf is 'n kaggelvuur, 'n warm koppie koffie of tee en goeie, gesellige geselskap. Ongelukkig vat dit bietjie meer om die verlange te verdryf. Ek dink al wat vanaand die verlange beter gaan maak is die Franse klanke van Carla Bruni, D.J. Opperman se groot verseboek en die gedagte dat ek weet dat iemand moontlik na my ook verlang.