Thursday, January 13, 2011

Skoonheid. Beauty. Beauté... MOOI.

Ek blaai gister deur 'n tydskrif en sien toe 'n foto van Angelina Jolie met haar pruilmondjie en donkerbruin hare en dink saggies: "Sjoe sy's mooi". Op die volgende bladsy is daar 'n pasgebore babatjie toegedraai in 'n donsige kombersie en ek dink: "Aaw kyk die mooi baba!". Tussen die modeblaaie van die tydskrif sien ek natuurlik 'n paar spykerhakke, of "killer heels" soos baie dit sou noem, en ek dink weer "Oeeeh dis mooi!". Toe skrik ek. Is ek dalk besig om die woord "mooi" te misbruik? Hoe kan 'n Hollywood seksbom, 'n onskuldige babatjie en onmenslike hoë hakskoene alles met dieselfde byvoeglike naamword beskryf word?

Wat is "mooi" nou EINTLIK?

Ek dink die reën is mooi. 
Ek dink 'n musikant se passie op die verhoog is mooi...
...eintlik dink ek enige passie is mooi.
Veral danspassies.
Dans is mooi.
Kinders is mooi.
Ek dink lag is mooi.
Ek dink woorde is mooi.
Blomme is mooi.
Wolke ook.
Musiek is mooi.
Ek dink gebed is mooi.
Woorde is mooi.
En ja ek dink selfs killer heels is mooi.
'n Bruid op haar troudag is mooi.
Foto's is mooi.
Pienk en rooi is mooi.
Ek dink die lewe is mooi.

Eintlik is "mooi" watookal jy dink mooi is.

Clive Bell het gedink iets is net mooi as vorm, kleur en lyne saamwerk om emosie te ontwaak (google "Bell's notion of significant form" - enige kunsliefhebber behoort dit insiggewend te vind).
Ek dink persoonlik Mnr. Bell het die regte idee gehad. Die "emosie ontwaak"-deel van sy teorie maak vir my sin. Alles wat mooi is ontwaak emosie. 

Mooi dinge laat my lag, huil en dink. Ek lag, huil en dink elke dag. 
Die lewe is mooi.