Monday, May 31, 2010

My heel eerste gedig. Ooit.

Op driejarige ouderdom het ek eendag 'n stuk papier en 'n potlood in my moederlief se hand gedruk en gesê "skryf". Min het ek geweet dat die woorde wat daardie dag uit my mond gekom het later as my heel eerste gedig bekend sou staan. Dit was kort, dus kon my ma dit onthou, want, hoewel die stukkie papier waarop sy die gedig neergeskribbel het al lankal tussendeur die trekkery, regpakkery en jare-verbygaanery weggeraak het, sit die kort en kragtige gediggie steeds vars in haar geheue:
 
Sterretjie:
Drome droom word altyd waar.
Hemelruim se liefde.


Waar op aarde 'n driejarige aan die woord "hemelruim" kom, weet nugter alleen. Tog dink ek dat my eerste gedig nogal besonders is... al moet ek dit nou self sê.

Reise in verliefdheid (jy weet mos)

Liefie, vat my fliek toe
en verander halfpad van plan
(jy weet ek sou in elkgeval nie kon konsentreer nie)
dan stick jy my vir 'n R3 roomys by Steers

Liefie, vat my Pick 'n Pay toe
om jou te help inkopies doen
(jy weet nogsteeds nie watter Stasoft die lekkerste ruik nie)
dan stap jy langs my terwyl ek die trollie stoot.

Liefie, vat my Engen toe
vir 'n laatnag, peperduur pastei
(jy weet ek eet nie pies nie)
dan koop jy vir my 'n muffin.

Liefie, vat my Cuppachino's toe
vir koffie of milo of tee
(jy weet ek wil die rekening betaal)
dan laat jy my toe om dit te doen.

Liefie, vat my hand
en hou my hart net vas
(jy weet ek kan nie sonder jou nie)
dan sê  jy net jy's lief vir my.

Waarom ek swot wat ek swot

As keuringsvereiste vir BA Tale (Joernalistiek), moes ek 'n opstel van nie meer as 350 woorde skryf met die titel "Waarom ek 'n Joernalis wil wees". Hierdie was my opstel:

Waarom ek 'n Joernalis wil word
 
Drie honderd en vyftig woorde. Dit is baie, ja, maar is dit genoeg om een mens se lewenslange passie op papier vas te lê? Hoe som 'n mens 'n hartstogtelike liefhebbery vir iets in drie honderd en vyftig woorde op, sonder om iets uit te los?

Sou 'n mens dit puntsgewys doen? Dan kan 'n mens kosbare woorde spaar deur nie van volsinne gebruik te maak nie en dan kan ek mos vinnig-vinnig verduidelik dat ek 'n joernalis wil word juis omdat ek daarvan hou om met woorde te werk. Wag... nee, ek hou nie daarvan om met woorde te werk nie... ek is verslaaf daaraan. Woorde is vir my soos wat kafeïene vir ander is. Ek het 'n onversadigbare honger vir woorde. 'n Enkele woord kan weke lank by my spook todat ek uiteindelik daardie woord op papier vasgelê het. Ek is verslaaf aan die krag van woorde. Dit verstom my dat een woord in 'n sekere konteks 'n positiewe uitwerking op iemand kan hê, terwyl daardie selfde woord in 'n ander konteks heeltemal ontnugterend kan wees. Ek is ook verslaaf aan die musikaliteit van woorde. Ek is gaande oor daardie musiek wat gekomponeer word wanneer verskillende alfabetletters, elkeen met sy eie klank, saamgevoeg word om pragtige harmonieë en melodieë te vorm.

Indien ek hierdie drie honderd en vyftig woorde punstgewys sou neerskryf, sou dit ook makliker wees om te noem dat ek nie net verslaaf is aan woorde nie, maar ook aan mense. Dan hoef ek weereens nie woorde te mors om te verduidelik dat ek 'n joernalis wil word, juis omdat ek dan die geleentheid gaan hê om met mense te werk nie. Mense inspireer my. Mense se denkwyses, hul doen en late, hul belangstellings en verskille... dít is waaruit ek inspirasie tap.

Ek kan net nie genoeg van woorde óf van mense kry nie en dít is die rede waarom ek 'n joernalis wil word. Joernalistiek is vir my 'n manier om my grootse passies (of verslawings) te kombineer en sonder joernalistieke rehabilitasie mag hierdie verslawings van my dalk my ondergang beteken.

                                                                                                                            Aantal woorde: [349]

Vrolikheid op note


Lag jy ooit as jy na name kyk?
Nie mens-name nie, maar musiekname.
Soos:
Die Heuwels Fantasties
Dans Dans Lisa

Van Coke Kartel

Ekhouvanjou,okay?

Klopjag

Die Tuin Dwergies

Lukraaketaar

Foto na Dans

Die Melktertkommissie

Die Straatligkinders
Fokofpolisiekar

Alleen na Desember


My kinders gaan eendag lag.
Dalk kom hul selfs met beter name vorendag.

Hoe verduidelik 'n mens ooit vir 'n nuwe generasie  

musiek met hierdie name was nie geraas nie?
Mense het dit as "cool" beskou.

Jack Parow se beats was rou, ou (hos ja!)

Hunter Kennedy se lirieke was goed
Jean en Emile was André Swiegers se bloed.
Bouwer Bosch kon nie noothou

en Pierre Greeff wou vir Leja onthou.

Lag jy ooit as jy na dié name kyk?
Jou kinders gaan eendag saam met my kinders lag...

terwyl hul na "Golden Oldies" van Muse en Paramore luister...

terwyl hul jou smeek om "Nog-'n-absurde-naam-vir-'n-Afrikaansemusiekgroep"
se nuutste album te koop.

Wat maak van 'n mens 'n digter?


Ek worstel nou al lank met hierdie vraag: wat maak van 'n mens 'n digter? Ek het al op 'n paar gedigte afgekom wat glad nie soos 'n gedig lyk nie: geen vaste versreëls of rympatroon nie, geen alliterasie of metafore nie, geen herhaling nie en niks wat die gedig bind tot 'n eenheid nie, maar tog is dit iewers in 'n digbundel opgeneem en as 'n "gedig" geklassifiseer. Hoe werk dit? Wie besluit wanneer iets 'n gedig is en wanneer iets net woorde is? Wie het soveel mag om iemand se woorde te kan klassifiseer, en sodoende iemand se lewe te verander (want kom ons wees eerlik, gedigte kán lewens verander)?

Hoe kry iemand soos Koos Kombuis dit reg om die woorde "oude doos" neer te skryf en dit soos poësie te laat klink? En hoekom mag Stephan Bouwer en Breyten Breytenbach die taalreëls oortree en nie gebruik maak van leestekens of hoofletters nie, maar nogtans benoem word vir uitsonderlike digkuns? Hoekom leer 'n mens dan op skool dat elke sin met 'n hoofletter begin en met 'n punt eindig, net sodat 'n mens later in 'n mens se lewe kan leer dat daar iets soos
"digterlike vryheid" bestaan wat 'n mens in staat stel om 'n taal te verbuig soos 'n mens wil en dat 'n mens dit dan 'n "gedig" kan noem.

Het die vermoë om te kan skryf dan so uitgesterf of afgesaag geraak dat daar vandag net sekere mense is wat nog 'n "regte gedig" kan skryf? Is digkuns dan werklik so 'n kuns dat 'n mens 'n skryfstuk net as 'n gedig kan klassifiseer as Antjie Krog of T.T Cloete dit geskryf het, soos wat 'n kunswerk net waardevol is as dit deur Picasso of Klaerhout geskilder is? Wat is kuns dan? Sou dit nodig wees om, soos Munsterburg, 'n boek te skryf oor die
definisie van kuns, net sodat 'n mens kan bewys dat digkuns ook 'n kuns is?

Hoekom kan digters vrae vra waarop niemand antwoorde het nie... vrae waarop hul nie werklik antwoorde soek nie? En hoekom vra niemand hoekom hulle hierdie vrae vra nie?

Ek dink dat digkuns nie net gaan oor vaste versreëls of strofebou en tipografie nie. Dit gaan oor baie meer as die formalistiese elemente. Volgens my gaan digkuns ook nie oor die woorde wat gebruik word, of die betekenis agter die woorde nie.
Gedigte gaan oor passie. Sodra 'n mens passie in 'n spul woorde kan raaklees, dan raak dit 'n gedig. Dan maak die woorde wat gebruik word sin en dan raak die formalistiese elemente betekenisvol. Dan alleen kan 'n mens verstaan waarom Stephan Bouwer nie hoofletters gebruik nie en hoekom Elisabeth Eybers se Nederlands-geïnspireerde Afrikaanse gedigte so gewild is in Suid-Afrika. 'n Gedig gaan nie noodwendig oor wat gesê word of oor hoe dit gesê word nie, dit gaan oor die passie wat veroorsaak het dat daar iets gesê word.

Sunday, May 30, 2010

Maak klaar.


Ek begin altyd met baie dinge. Soms op een slag. My nuutste obsessie is duidelik hierdie blogskryf-ding. Die rede waarom ek besluit het om hierdie blog te begin skryf, is die feit dat daar gedurig woorde en mooi frases in my kop ronddwaal, maar ek het nie altyd lus om die goed neer te skryf nie (en as ek hulle wel neerskryf verlê ek gewoonlik die papier waarop ek dit geskyf het). Ek het gevoel dat 'n blog 'n goeie plek sal wees om dit neer te skryf (of neer te tik...).

Om die waarheid te sê, ek het op 'n tyd 'n klein notaboekie in my skoolbaadjiesak rondgedra sodat ek allerande mooi woorde of sinne of frases dadelik kon neerskryf. Dit het aan die begin nogal gewerk. Die notaboekie bevat 'n paar bladsytjies met woorde soos "asjas" en frases soos "die lewe is 'n kaaskrul" daarop geskribbel. Later is hierdie notaboekie egter nie meer net gebruik vir Afrikaanse skerpsinnighede nie, maar ook vir oulike Franse woorde en frases, soos "je suis comme un sac de sucrerie" en "je suis une grande voyageuse, mais tres attacheé a l'idee de la maison".

Ek kan met alle eerlikheid sê dat ek die notaboekie darem nog gebruik, maar net om Franse-dinge neer te pen en dan byderhand te hê wanneer ek iets in die Franse klas wil sê en van 'n oulike vaste uitdrukking gebruik wil maak. Maar ongelukkig het die boekie nie my probleem opgelos vir die feit dat ek te lui is om Afrikaanse-dinge neer te skryf nie. Dus "blog" ek nou.

Ek kan nie regtig dink dat enige iemand genoeg sal belangstel om my blog te lees nie, maar dit traak my nie regtig nie. Ek skryf nie om ander mense te beïndruk nie, ek skryf vir myself. Ek skryf om eendag vir my kinders te kan wys hoe ek gevoel en geskryf het toe ek jonger was. Ek skryf sodat my toekomstige man dalk eendag op my blog kan afkom en iets anders van my persoonlikheid kan raaklees. Ek skryf om dinge te laat sinmaak. Ek skryf omdat dit lekker is om met woorde te speel en te kyk hoe vinnig 'n mens tikfoute kan maak en sodoende die betekenis van 'n woord/sin kan verander. Ek skryf omdat ek cool mense ken oor wie ek kan skryf. Ek skryf omdat ek (soos reeds telkemale genoem), mooi woorde en frases wil onthou. En ek skryf omdat skryf die een ding is waarmee ek kan begin en waarmee ek nooit hoef klaar te maak nie.