Monday, May 31, 2010

Wat maak van 'n mens 'n digter?


Ek worstel nou al lank met hierdie vraag: wat maak van 'n mens 'n digter? Ek het al op 'n paar gedigte afgekom wat glad nie soos 'n gedig lyk nie: geen vaste versreëls of rympatroon nie, geen alliterasie of metafore nie, geen herhaling nie en niks wat die gedig bind tot 'n eenheid nie, maar tog is dit iewers in 'n digbundel opgeneem en as 'n "gedig" geklassifiseer. Hoe werk dit? Wie besluit wanneer iets 'n gedig is en wanneer iets net woorde is? Wie het soveel mag om iemand se woorde te kan klassifiseer, en sodoende iemand se lewe te verander (want kom ons wees eerlik, gedigte kán lewens verander)?

Hoe kry iemand soos Koos Kombuis dit reg om die woorde "oude doos" neer te skryf en dit soos poësie te laat klink? En hoekom mag Stephan Bouwer en Breyten Breytenbach die taalreëls oortree en nie gebruik maak van leestekens of hoofletters nie, maar nogtans benoem word vir uitsonderlike digkuns? Hoekom leer 'n mens dan op skool dat elke sin met 'n hoofletter begin en met 'n punt eindig, net sodat 'n mens later in 'n mens se lewe kan leer dat daar iets soos
"digterlike vryheid" bestaan wat 'n mens in staat stel om 'n taal te verbuig soos 'n mens wil en dat 'n mens dit dan 'n "gedig" kan noem.

Het die vermoë om te kan skryf dan so uitgesterf of afgesaag geraak dat daar vandag net sekere mense is wat nog 'n "regte gedig" kan skryf? Is digkuns dan werklik so 'n kuns dat 'n mens 'n skryfstuk net as 'n gedig kan klassifiseer as Antjie Krog of T.T Cloete dit geskryf het, soos wat 'n kunswerk net waardevol is as dit deur Picasso of Klaerhout geskilder is? Wat is kuns dan? Sou dit nodig wees om, soos Munsterburg, 'n boek te skryf oor die
definisie van kuns, net sodat 'n mens kan bewys dat digkuns ook 'n kuns is?

Hoekom kan digters vrae vra waarop niemand antwoorde het nie... vrae waarop hul nie werklik antwoorde soek nie? En hoekom vra niemand hoekom hulle hierdie vrae vra nie?

Ek dink dat digkuns nie net gaan oor vaste versreëls of strofebou en tipografie nie. Dit gaan oor baie meer as die formalistiese elemente. Volgens my gaan digkuns ook nie oor die woorde wat gebruik word, of die betekenis agter die woorde nie.
Gedigte gaan oor passie. Sodra 'n mens passie in 'n spul woorde kan raaklees, dan raak dit 'n gedig. Dan maak die woorde wat gebruik word sin en dan raak die formalistiese elemente betekenisvol. Dan alleen kan 'n mens verstaan waarom Stephan Bouwer nie hoofletters gebruik nie en hoekom Elisabeth Eybers se Nederlands-geïnspireerde Afrikaanse gedigte so gewild is in Suid-Afrika. 'n Gedig gaan nie noodwendig oor wat gesê word of oor hoe dit gesê word nie, dit gaan oor die passie wat veroorsaak het dat daar iets gesê word.

No comments:

Post a Comment