Monday, May 31, 2010

Waarom ek swot wat ek swot

As keuringsvereiste vir BA Tale (Joernalistiek), moes ek 'n opstel van nie meer as 350 woorde skryf met die titel "Waarom ek 'n Joernalis wil wees". Hierdie was my opstel:

Waarom ek 'n Joernalis wil word
 
Drie honderd en vyftig woorde. Dit is baie, ja, maar is dit genoeg om een mens se lewenslange passie op papier vas te lê? Hoe som 'n mens 'n hartstogtelike liefhebbery vir iets in drie honderd en vyftig woorde op, sonder om iets uit te los?

Sou 'n mens dit puntsgewys doen? Dan kan 'n mens kosbare woorde spaar deur nie van volsinne gebruik te maak nie en dan kan ek mos vinnig-vinnig verduidelik dat ek 'n joernalis wil word juis omdat ek daarvan hou om met woorde te werk. Wag... nee, ek hou nie daarvan om met woorde te werk nie... ek is verslaaf daaraan. Woorde is vir my soos wat kafeïene vir ander is. Ek het 'n onversadigbare honger vir woorde. 'n Enkele woord kan weke lank by my spook todat ek uiteindelik daardie woord op papier vasgelê het. Ek is verslaaf aan die krag van woorde. Dit verstom my dat een woord in 'n sekere konteks 'n positiewe uitwerking op iemand kan hê, terwyl daardie selfde woord in 'n ander konteks heeltemal ontnugterend kan wees. Ek is ook verslaaf aan die musikaliteit van woorde. Ek is gaande oor daardie musiek wat gekomponeer word wanneer verskillende alfabetletters, elkeen met sy eie klank, saamgevoeg word om pragtige harmonieë en melodieë te vorm.

Indien ek hierdie drie honderd en vyftig woorde punstgewys sou neerskryf, sou dit ook makliker wees om te noem dat ek nie net verslaaf is aan woorde nie, maar ook aan mense. Dan hoef ek weereens nie woorde te mors om te verduidelik dat ek 'n joernalis wil word, juis omdat ek dan die geleentheid gaan hê om met mense te werk nie. Mense inspireer my. Mense se denkwyses, hul doen en late, hul belangstellings en verskille... dít is waaruit ek inspirasie tap.

Ek kan net nie genoeg van woorde óf van mense kry nie en dít is die rede waarom ek 'n joernalis wil word. Joernalistiek is vir my 'n manier om my grootse passies (of verslawings) te kombineer en sonder joernalistieke rehabilitasie mag hierdie verslawings van my dalk my ondergang beteken.

                                                                                                                            Aantal woorde: [349]

No comments:

Post a Comment