Saturday, August 7, 2010

Die idee van rooiwyn

Ek het nog altyd gedink dat ek van rooiwyn hou. Wat is dan lekkerder as om laat op 'n Maandagmiddag saam met 'n klomp goeie vriende by 'n mooi dam te gaan sit en rooiwyn te drink? Hedonisties. Sorgvry. Jonk. Studentwees. Rooiwyn smaak ook mos altyd lekker saam met 'n tjoppie op die vuur, of wanneer 'n mens inspirasie nodig het vir 'n nuwe gedig. Om salig te sit en 'n mens se gunstelingmusiek te luister (in my geval iets van Lukraaketaar of Fiona Apple... dalk selfs bietjie Die Heuwels Fantasties), ontlok altyd 'n gevoel van nostalgie en om een of ander rede vloei die woorde net beter na 'n glas rooiwyn. "The thoughts taste sweeter with wine".

Tog het ek hierdie week agter gekom dat ek nie regtig van rooiwyn hou nie. Die smaak is nie te sleg nie, maar wanneer 'n mens dors is gaan rooiwyn nie die dors les nie. Ek hou eintlik net van die idee van rooiwyn. Ek hou van die idee dat rooiwyn 'n mens liries maak. Ek hou van die idee dat 'n glas rooiwyn elegant lyk. Ek hou van die idee dat rooiwyn mense gesellig laat voel en laat voorkom.  Ek hou van die idee dat rooiwyn goedkoop inspirasie in 'n bottel is, of soos Robert Louis Stevenson gese het: "Wine is Bottled Poetry". Ek hou van die idee van rooiwyn net soos wat ek van die idee van trou en kinders kry hou. Of die idee dat ek eendag op 'n Sondagmiddag saam met vriende op die stoep sal sit en kyk hoe die kinders in die tuin speel. Ek hou van die idee van rooiwyn soos wat ek van die idee van duur parfuum hou. Dit is alles idees wat met die verloop van tyd in my kop gevorm het, omdat al hierdie idees iets van my hartsbegeertes verklap. 

Rooiwyn is nie altyd nodig vir inspirasie nie (veral nie wanneer 'n mens vriende soos myne het nie). Dit is ook nie nodig om nou al te weet met wie ek gaan trou of hoeveel kinders ek eendag gaan he nie, net soos wat dit nie nodig is om duur parfuum te dra nie. Maar, die idee van rooiwyn is soms nodig, want dit is die idee van rooiwyn wat 'n mens herinner dat 'n mens moet droom.

2 comments:

  1. Goeie ene Sarina.

    Persoonlik hou ek meer van brandewyn en coke saam my vleisie op die vuur. Jy weet, Ricky Louw! En rooiwyn is nie altyd goedkoop nie, maak 'n draai in Liquor City en kyk bietjie na die breƫ spektrum van wyne, en die uitskieter pryse van die duurste wyn wat hulle aanbied, jou beursie gaan sommer 'n TB hoes los!

    ReplyDelete
  2. Nice stukkie, net 2 punte wat uitgelig moet word, hehe:
    1. Mens drink nie rooiwyn as jy dors is nie, want dit les nie dors nie.
    2. Goedkoop? Mmm, dalk goedkoper as 'n vlug oorsee (om in 'n plattelandse Italiaanse Villa inspirasie te soek), maar verseker nie goedkoop in die konteks van drinkbare vloeistof nie.

    Eitherway, ek love hoe liries jy raak oor Bacchus se voggies...

    ReplyDelete