Tuesday, August 3, 2010

Lina se gedig

Naskrif: 'n Credo - deur Lina Spies

Ek wil nog hê dat my verse "mooi" moet wees,
mooi soos Blou see van denne teen die hang
en My nooi is in 'n nartjie,
soos Robert Frost en Emily Dickenson:
The woods are lovely, dark and deep en
      Heart we will forget him!
      You and I, tonight!

Ek wil hê dat "gewone" mense my poësie moet lees
en tog, ek hou nie van gewone mense nie:
van vrouens wat net babas kry
en mans wat saans 'n bier drink in die kroeg.

Ek hou van iemand wat oor dertig jaar
'n roomys in die straat sal lek,
van 'n ongelowige wat sê soos by gebed:
"John McCormack sing soos Mozart se musiek"
terwyl dit buite reën
en 'n amandelboom spierwit in die vaalte staan.

Ek hou van jou wat sal kan sien
die liewe vrou, oud en gerimpeld,
lyk presies nes 'n parkiet

Ek wil hê dat jy van my gedigte hou,
jy wat ongewoon en anders is
en tog gelukkig geen kenner van rym en metrum nie.






Naskrif : 'n encore - deur Sarina Johnson

Lina, jou gedigte ís "mooi".
Dit praat met die hart,
soos jy dit wou hê.
... En die hart praat terug.

Dit herinner mens om nie so 
verwaand te raak
dat roomys-lekkery
nie meer lekker is nie.

Dit herinner mens om "gewoon" te bly,
maar, nie té gewoon nie,
want gewoonlik is gewone mense
doodgewoon vervelig.

Lina, jou gedigte ís mooi.
Dit praat met my.

No comments:

Post a Comment