Thursday, September 30, 2010

Sound of silence

Stilte maak my bang. 
Dalk is dit omdat ek weet dat daar altyd 'n stilte voor die storm is. Daarom vermy ek die stilte en hoop dat ek so ook die storm kan vermy. 
Ek het hierdie afgelope twee weke egter agter gekom dat dit nie die storm is waarvoor ek bang is nie.
Ek is bang vir die ongelooflike kalmte wat saam met die stilte kom, want dan word ek gedwing om na die stilte te luister. Stilte is nooit werklik stil nie. 


My radio is permanent aan - selfs wanneer ek slaap - juis sodat ek nie in stilte moet wakker word nie. Maar hierdie week het ek bietjie my radio afgesit. Ek het geleer om die stilte te waardeer. En te luister na alles wat in die stilte gesê word. Ek het geleer om die stilte te "embrace". 



Die Here gebruik stilte om met my te praat. Hy sit drome in my hart wat ek net in die stilte kan koester. Dis soos 'n saadjie wat donkerte nodig het om te ontkiem. My drome het stilte nodig om te ontkiem. 


"And the vision that was planted in my brain
still remains
within the sound of silence..."


Simon and Garfunkel het verseker hierdie konsep verstaan...


Hierdie week het ek geleer dat die stilte 'n goeie ding kan wees en dat 'n mens nie altyd die stilte hoef te vul met musiek of woorde nie. En as die stilte dan gevul móét word, vul dit eerder met gebed.


Ek het baie uit die stilte geleer. Nou is ek ook nie meer bang vir stilte nie. Ek sien kans vir die stilte, die kalmte en die storm na die stilte, want ek weet dat ek in stilte genoeg krag sal kry om die storm te trotseer. Ek weet dat die stilte genesing bring en dat die stilte soms goud werd is.
Ek is nog nie lief genoeg vir stilte om nou op te hou musiek luister nie (of dalk is ek nog liewer vir musiek as vir stilte. Musiek bring immers ook 'n tipe genesing), maar ek het geleer om die stilte te geniet.  Amen Meneer Aldous Huxley - "After silence, that which comes nearest to expressing the inexpressible is music".


Stilte is goud werd. 


"We need to find God, and he cannot be found in noise and restlessness. God is the friend of silence. See how nature- trees, flowers, grass - grows in silence; see the stars, the moon and the sun, how they move in silence... We need silence to be able to touch souls." - Moeder Teresa

As God 'n vriend van stilte is, dan wil ek ook 'n vriend van stilte wees. Dit is soveel makliker om die Here te vind in die blomme en die blou lug as wat dit is om hom op die teerpad of tussen betonstrukture te vind.  Tog is dit selfs nog makliker om hom juis in betonstrukture te vind wanneer 'n kalm stilte op 'n mens neerdaal. God is orals. Veral in stilte.


Stilte is my nuwe gunsteling klank.

No comments:

Post a Comment