Saturday, June 12, 2010

Sokkerkoors



Die meeste Suid-Afrikaners sal waarskynlik die jaar 2010 slegs vir een ding onthou: die FIFA Wêreldbeker.

Sedert daar in 2004 aangekondig is dat ons land die gasheerland vir die 2010 Wêreldbeker sal wees, is Suid-Afrikaners gebombardeer deur enige iets wat met sokker verband hou en nou het die groot dag uiteindelik aangebreek. Die wêreld is op ons voorstoep (en Sun City krioel blykbaar van sterre soos David Beckham en sy gesin), en die hele land is in rep en roer oor wat hierdie Wêreldbeker alles vir ons land mag inhou.

Ek beskou myself glad nie as 'n sokkeraanhanger nie. Ek het onlangs eers uitgevind wie Kaka en Maradonna is en as ek nie vriende gehad het wat sokkermal was nie, sou ek waarskynlik nogsteeds nie besef het dat Aaron Mokoena Bafana Bafana se kaptein is of dat Brasilië die Wêreldbeker al vyf keer gewen het nie. Maar selfs al is ek nie 'n sokkermalmens nie, is ek ook nou ingetrek deur die gedruis van Vuvuzelas en die see van groen en geel wat Bafana Bafana aanhits en aanmoedig. Ek het nou wel nog nie vlaggies op die kar of op my spieeltjies nie, maar ek besit ook nou darem al 'n top met die woorde "South Africa" daarop en ek kan ook nou al 'n vuvuzela blaas.

Gister se openingseremonie by Soccer City was pragtig. Ek was weer trots Suid-Afrikaans. Die wedstryd was net so pragtig en ek was stilweg bly dat Tshabalala die doel vir Suid-Afrika aangeteken het, aangesien hy en Booth die enigste Bafana-spelers is wat ek met die eerste oogopslag kan uitken, dus kon ek "mooi so Tshabalala" skree en mense het gedink ek weet waarvan ek praat. Ek het gisteraand ook die wedstryd tussen Frankryk en Uruguay gekyk en het sopas die Korea-Griekeland wedstryd gekyk. Selfs al het ek nie 'n idee wie die spelers op die veld is nie en selfs al is daar maar min name wat vir my bekend klink, maak ek nou 'n punt daarvan om nie 'n wedstryd mis te loop nie... ek het ook nou sokkerkoors.

No comments:

Post a Comment