Vir Magdaleen
Geluk skryf die rympies
droefheid die gedig
jou nabyheid die versies
verlange die poësie
- Hans du Plessis
Daar is min dinge in hierdie lewe so erg as om na iemand te verlang. Dis gewoonlik verlange wat my dryf tot poësie, daarom kon ek aanklank vind by Hans du Plessis se gedig.
Hans se gedig het my egter laat dink aan nog 'n gedig (ook deur 'n du Plessis... of eerder deur DIE du Plessis):
Herinneringe
Jou beeld is 'n verflenterde foto
In 'n skewe, versplinterde raam
en 'n sestal geskommelde letters
spel jou tweelettergrepige naam.
Jou woorde is dor manuskripte
Vir die motte bewaar op die rak
en ons dae 'n kralesnoer syfers
op 'n outydste muuralmanak.
Jou oë was die kleur van die aarde,
van saffier, van smarag of agaat,
en jou stem 'n ontwykende deuntjie
gevange in 'n stukkende plaat.
Vergete is die lag in jou oë
of die tranespoor op jou wang,
maar soms in die nanag onthou ek
hoe diep ek na jou kon verlang.
Want wat ek vir altyd wou vashou,
het die tyd uit my hande laat gly
en wat ek so graag wou vergeet het
is vir ewig gebalsem in my.
- Koos du Plessis
Vanaand is weer een van daardie aande waar ek diep en innig verlang. Ek vermoed die winterweer het iets daarmee uit te waai. Dis so koud, onguur en triestig dat 'n mens se hele wese daarteen moet stry om te keer dat 'n mens se hart ook so begin voel. Al wat help om die koue te verdryf is 'n kaggelvuur, 'n warm koppie koffie of tee en goeie, gesellige geselskap. Ongelukkig vat dit bietjie meer om die verlange te verdryf. Ek dink al wat vanaand die verlange beter gaan maak is die Franse klanke van Carla Bruni, D.J. Opperman se groot verseboek en die gedagte dat ek weet dat iemand moontlik na my ook verlang.
No comments:
Post a Comment